- Groot en fyn motoriek
Groot Motoriese Vaardighede verwys na die beweging en beheer van die groot spiere van die liggaam, soos wanneer ‘n kind stap, hardloop, skop, vang, spring, klim en gooi. Motories beteken beweging.

Fyn Motoriese Vaardighede verwys na die beweging en beheer van die klein spiere van die liggaam, soos wanneer ‘n kind verf, teken, knip, plak en legkaartbou.
- Spraak en taalvaardighede
Taal- en spraakvaardighede is nie dieselfde ding nie. Spraak is die vermoë om klanke bymekaar te sit om woorde te vorm, terwyl taal die verstaan en regte gebruik van die woorde is.
- Verbeelding en kreatiewe vaardighede

Fantasie is om sonder reëls of logika die verbeelding vrye teuels te gee en drome te droom. Kreatiwiteit is om planne te maak en dinge op ‘n nuwe manier te doen. Fantasie en kreatiwiteit moedig kinders aan om te dink en om iets met die nuwe plan te doen – dit vir ander te vertel of die plan uit te voer. Omdat die hand en die mond op dieselfde neurologiese baan in die brein is, stimuleer fantasie en kreatiwiteit die kind se vermoë om te dink en sy denke uit te druk.
- Emosionele en sosiale vaardighede
Emosionele - en sosiale ontwikkeling is die basis van die kind se behoefte om te behoort en aanvaar te word (maatjies te hê). ‘n Positiewe selfbeeld en selfvertroue om met ander om te gaan is die direkte gevolg van ‘n goedontwikkelde lyf en ‘n positiewe belewenis daarvan.
- Voorbereidende skrif en spelling

Skrif is meer as net letters in ‘n ry.Vaardighede soos persepsie, hand-oog koördinasie, fyn motoriese koördinasie, kreatiewe denke, redenasie en die herkenning van alfabetletters is nodig voor ‘n kind kan skryf.
- Voorbereidende lees
Skryf is om op papier te praat. Lees is om te hoor wat op papier gesê was. Teken is ‘n vorm van skryf. Om te lees wat geteken is, is voorbereiding vir formele lees. Lees is dus die prentjies van die klanke wat ons praat.
Lees begin wanneer die kind sy maatjie, juffrou, oppasser of ouer vertel wat hy geteken het. Die storie verander dikwels as die kind dit vir meer as een persoon vertel. Dit is nie belangrik dat die storie dieselfde moet bly nie - dis belangrik dat die kind dink, sy gedagtes in prentjies verbeeld en dan weer kan herroep.
- Syfervaardigheid en syfergeletterdheid
Wiskunde en syfergeletterdheid is alledaagse lewensvaardighede wat die kind dwarsdeur sy hele lewe gebruik. Wiskunde is een van die mees gevreesde vakke op skool en ‘n verpligte vak in die nuwe onderwysbenadering. Soos met lees en spel is een van die grootste probleme met wiskunde dat die basiese vaardighede wat ‘n kind help om wiskunde te kan doen, nie ontwikkel is nie. Om wiskunde te kan doen is dan soos om ‘n huis sonder ‘n fondasie te bou. Só ‘n huis sal verseker omval.
ALLE kinders kan wiskunde doen solank as die basiese vaardighede ontwikkel word.
- Denke en probleemoplossing
‘n Kind se vermoë om te dink, help hom om sin te maak van dit wat hy sien, hoor, proe, ruik en voel. Op die manier begin hy om te verstaan hoe dinge werk en dat hy probleme kan oplos deur planne te maak. Wanneer ‘n kind besef hy KAN self planne maak, is die kind gereed vir die lewe en formele leer.